Gisteroggend het die verwagte Please Call Me gekom. Ek het vir Abel gebel. Hulle geld was op.
“Stuur vir my môre ñ Please Call Me van Foodzone af, Abel. Ons sal vir julle geld soontoe vat.”
Dit was vanoggend op die kop 8:00 toe die Please Call Me op my foon piep.
Ek klim agter Helgaard in die kombi in, tel eers Rosinah se geld en toe Abel se geld vir die res van April uit. Ons het hulle vooruit betaal tot en met die einde van die eerste lockdown en nou is die tyd verleng.
Die strate is vroegoggend doodstil.
Op die hoek van die straat by die poskantoor staan die twee teenaan ñ boomstam en wag. Ek het hulle amper nie herken nie: kom Abel aangestap met ñ wit stok voor hom uitgestrek; Rosinah aan sy sy.
“Wat het Abel daar?” vra Helgaard, “Hy lyk soos ñ blinde ou!”
As daar iemand is wat sal weet wat Covid 19-regulasies verg, is dit seker Abel. Hy is ñ kranige koerantleser. Verkieslik in die toilet as hy veronderstel is om beddings om te spit of randte te knip. Ons plaaslike koerant, Die Kormorant, is voorheen so vinnig van die eetkamertafel onderskep, dat ek en Ma al altwee by voorbaat twee neem as ons een vir onsself iewers neem – een vir Abel ook, sodat ons darem klaar gelees kry. Hy werk die ander helfte van die week by Ma en Pa.
Om altwee saam op die taxi te kan klim, of saam in die winkel te mag in, het hy seker nou die plan gemaak met die wit stok.
Toe hulle nader stap sien ek die wit stok is die onderste deel van ñ ou strandsambreel, swaaiende voor hom uit. Ek vra liewer nie.
“En? Hoe gaan dit met julle, Rosinah? Is julle nog gesond?”
Sy glimlag van oor tot oor: “ Goed! Vat aan níémand!”
“Kom ons gee die geld eerder binne, Abel,” stel Helgaard voor, “sodat ander mense nie sien julle het geld by julle nie.”
Rosinah steek by die ontsmetmiddel vas wat op ñ klein tafeltjie reg in die middel van die kafee se ingang staan. Dit lyk asof sy opskrop voor ñ groot operasie. Tot verby haar elmboë smeer en vryf sy die ontsmetmiddel in. Abel is meer besadig en hy sukkel ietwat met die sambreelpyp in die pad.
Ons kry vir hulle ñ sak mieliemeel, knaend bekommerd oor hoeveel mense hulle dalk voor verantwoordelik is en toenemend, soos werkloosheid ñ al groter realiteit is, dalk sal moet kos gee.
“Julle moet mooi loop, Abel. Mooibly, Rosinah,” en ons is daar uit.
“Kom ons gaan gee gou die brood vir jou Ma’le,” sê Helgaard.
Pa is ñ strawwe roker – om dit goedkoper te maak rook Pa die Pakistani oorkant Mr Salad se vreemde sigarette.
Hy hoes deesdae snags erg, sê Ma, maar hy wil mos nie hoor nie. Rook hierdie goedkoop gemors.
Dan neem Pa maar net behaaglik ñ trek van sy goedkoop sigaret en Ma kyk bekommerd na hom.
Lize, my sussie in Kanada, het ons almal verbied dat Pa, en eintlik Ma ook, in ñ winkel kom tydens die korona-bedreiging. Ek en Helgaard gaan koop maar en gooi dan die nodigste by hulle af. Ons sien net vir hulle en hulle vir ons.
Dis kort na 8:30 toe ons daar stop. Kom Pa reeds uit die garage uit, sigaret in die mondhoek, verfkwas vol verf in die hand, besig om iets in sy hand silwer te verf.
Ons voel al minder vreemd om nie te groet, te druk, te soen nie en op ñ veilige afstand te staan.
“Wat verf, Pa?”
“Sommer ñ bracket wat ek geswys het vir my nuwe wasbakstaander. Vir die karavaan. Kom ons kry koffie.”
Ons raak aan niks. Wag dat Ma die kraan oopdraai, die ketel volmaak. Ek sit self my en Helgaard se koppies in die skottelgoedmasjien wat oopstaan, sodat Ma nie daaraan hoef te vat nie.
Die dam het wasig in die verte gelê soos waterverf wat omgeval het.
Terwyl ons hande was sê Ma:”Kyk net hier!” Sy haal drie likeurbottels uit die asblik. Bottels wat ek sedert my kinderjare onthou. Iewers in baie huise is daar so ñ rytjie vreemde dranke of likeur wat, gewoonlik mans, persent kry op hul verjaarsdae. Duur goed wat niemand drink nie, maar ook nie wil weggooi nie.
“Jou pa se brandewyn is nou klaar. Toe vaar hy gisteraand in die likeur in.”
Ma trek asem in en haal nog ñ bottel uit: “Mathys! Het jy wragtig gistraand my bottel Contreau leeggemaak? Ek gebruik dit vir bak. Weet jy hoe duur is dit? ! Nee-man….!”
“Hierdie is ñ noodtoestand,” sê Pa, “jy gaan g’n met Contreau bak in hierdie tye nie!”
Hy draai na ons.
“Dis nogal lekker,” lag hy, “jy meng so ñ bietjie van als met Coke Light dan proe dit nés brandewyn! Hierdie raak mos nou ñ heksejag met die drank- en sigaretverbod.”
Ons stap op die stoep uit waar die frette in die deurmekaarbos wip en tjirp; die res pik saadjies en kuier in Ma en Pa se voerbak. Helgaard het binnekort ñ vergadering op Microsoft Teams en ons moet die kinders aan die gang gaan kry met hul skoolwerk.
“Daar is landwyd 3 158 bevestigde gevalle van Covid-19 en 54 sterftes,” hoor ons die RSG-nuusleser op die radio in die huis sê.
Die dag het skielik effe somber begin voel. Pa het die rook diep ingetrek en tuin in gekyk, “Jy weet, dis soos om te verdrink. Die ding tas jou longe aan.”
Ma het net gevra: “En die kinders? Gaan dit goed met hulle?”
Iewers is daar mense wat alleen lê en doodgaan.
Ons is huis toe en het vir Ma Desiree op WhatsApp gesing vir haar verjaarsdag. Ons kon dit nie regkry dat Woolworths iets daar aflewer nie en sal die vieringe op ys moet plaas.
Die dag se smeersel wolke het in die vroegaand pienk gelê en Salomo en Skeba het op die gras met hulle tou gespeel soos baie ander aande. Daar is meer karre op die pad. Die internetverbinding het vandag knaend geval en ons vergaderings belemmer.
Wêreldwyd hou die mensdom die onderste helfte van ñ strandsambreelpyp voor hulle uit en probeer blindweg nuwe weë vorentoe voel.
(c) sureta von holtzhausen