Daar is dae in jou lewe wat jy sal onthou – sommiges omdat ñ grootse gebeurtenis die dag merk, ander omdat iets op daardie dag begin het of beëindig is, en ander weer is nie beskore om onthou te word nie, maar hulle lewer darem ñ staaltjie op wat jy lank nadat jy die datum vergeet het nog kan oorvertel. En dan is daar dae soos vandag. Dae wat jy vergeet sodra jy môre-oggend in ñ nuwe dag jou oë oopmaak.
ñ Dag met ñ sonsopkoms en ñ sonsondergang. ñ Dag met ñ môrester en ñ aandster wat in sy gewone blink bokant die berg se rug flonker. ñ Dag met ñ gewone son en ñ lug met smeersels wolke wat niemand juis sal opmerk of onthou of wil afneem nie.
Ek onthou werklik nie eens of ek ontbyt gehad het vanoggend of wat dit was nie.
Ek het die grootste deel van die oggend klas gegee in my ‘nuwe’ aanlynklaskamer, Helgaard het die een vergadering na die ander gehad; baie daarvan verwant aan die finansiële druk wat die Staatskas binnekort gaan ervaar. Op en af loop hy in die huis met sy oorfone en selfoon in die hand, vegadering na vergadering.
Die kinders het skoolgegaan in hul nuwe WhatsApp-, MS Teams- en Zoom-klaskamers.
Daar was laatmiddag ñ gewaardeerde gesprek met ñ vriend met goeie raad vir my en ñ korona-storie met ñ polisieman as hoofkarakter en ñ klikkiebek as die wolf wat die huisie van steen probeer omblaas.
Die werkers wat ook op die plot bly omdat dit hul enigste huis in Suid-Afrika is, het die vullis in die klein veldjie onderkant die huis aan die brand gesteek en die tuin het deinserig en vaal in die rook gelê; die huis se deure en vensters toe teen die dralende rook. Hulle het dit ñ tydjie terug gedoen terwyl Rosinah se wasgoed op die draad gehang het. Kom ons sê maar net nadat sy haar sê gesê en op haar beste Pedi onder hulle ingevlieg het, was my insette onnodig. Tot ek het daardie middag gespring as Rosinah net in my rigting kyk! Beneuk om daardie wasgoed te moet oor was. Met goeie rede. Maar vandag, vandag was daar net die rook en geen Rosinah nie. Die wasgoed opgehoop in die mandjies.
Vanaand het Cyril Ramaphosa weer die nasie toegespreek. Instede daarvan om op ñ virus-verantwoordelike wyse stelselmatig die ekonomie te begin oopgooi, het hy die probleem van die dreigende hongersnood se oplossing kom aanbied: hy het met die klingelende melkemmers van sosialisme na die kampie met droë koeie aangestryk; die spantou van apartheid in die hand.
Met ñ leeggesteelde Staatskas en ñ krisis van wêreldproporsies, is ñ handjievol getroue belastingbetalers wat swaar tye in die gesig begin staar nie die oplossing nie.
Die man oorkant die pad se leeus het vroegaand gebrul en gebrul. Asof hulle ñ edik uitvaardig. Selfs vanuit hulle gevangenisskap.
ñ Doodgewone dag met sy doene en lates, sy juweeltjies en kommer, sy wonder en verwonder. By verre die grootste getal krale in die snoer van ons lewens bestaan uit sulke doodgewone dae.
Juis doodgewoonheid maak hierdie dag spesiaal; ñ gewone Dinsdag in ñ huis vol gewone mense. ñ Dag vol middelmatige dinge met ñ bietjie vrede en ñ bietjie onrus daarby.
Later jare, as die terugkyk gereelder sou wees as die vooruitkyk, sal ñ mens hierdie ingerygde dae vol gewone dinge in die snoer, geluk noem.
(c) sureta von holtzhausen