As jy ñ bedrewe slapelosenagter is soos ek, kan jy met taamlike akkuraatheid raai hoe laat jou oë sonder rede in die middel van die nag oopgaan. Soos twee motvlerke vou hulle doodeenvoudig oop, en dan lê jy daar – starende. Eenuur voel anders as twee-uur. Drie-uur is ñ ou vriend en vieruur is ñ geneuk, want die wekkers gaan vyfuur af op gewone weeksdae. Ek vind my heenkome dan gewoonlik in die spaarkamer waar ek dan maar skryf, soos nou, of werk of aanlyn lees.
Met die grendelstilte wat soos ñ lieflike satynlint om ons nagte en dae gestrik is, belemmer dit effe my raaiskote. Vanoggend was dit 2:34. Ongewoon. Ek weet nie hoe dit werk nie, maar my motvlerke vou gewoonlik òp die uur of halfuur oop: drie-uur. Nie elf minute oor, of kwart voor nie. Òp die uur.
Ek staan dadelik op, want bitter ervaring het my al geleer dat die onoorkomelike probleme wat tussen 2 en 5vm in jou maal, met sonsopkoms oplos en verdun. Die perfekte gesprekke wat jy in daardie donker tyd in jou kop met mense voer, vol slimmighede en dapper dinge wat jy in werklikheid nooit in sonlig sal sê nie, is in elk geval hersenskimme. Om tyd te brand, het iemand iewers hierdie tipe hersensvlugte genoem. Ek sit soms te veel langs die knetterende vuurtjie van tyd en dink aan onbegonne dinge.
Daar is deesdae heelwat bespiegelinge oor die intensiteit van emosie wat mense ervaar. Baie mense noem dit rou en as dit rou is, gaan jy deur ñ paar emosies moet werk om tot by aanvaarding te kom.
Daar is wel sprake van verlies in hierdie dae. Die verlies van ons planne, ons grense, ons staande roetines.
David Kessler voeg ñ sesde stap by verlies se vyf stappe: betekenis. Na aanvaarding is dit belanrik om sin te vind in die verlies.
Vir my is die emosies van hierdie dae nie bloot ñ verlies, of selfs ñ wysiging van grense of planne nie, dit gaan ook gepaard met ñ voortdurende bedreiging. Met onsekerheid. Met die hele aksie van ñ samelewing wat soos ñ swaar trein op volle stoom teen ñ afdraende moes rem sodat jy net vonke sien spat, en nou passief op die spoor wag sonder om te weet hoe die spoor gaan rangeer, of waarheen.
Ek weet nie regtig of dit enigsins waar is dat die wêreld nuut gaan wees, as hierdie ding verby is nie. Hòè nuut?
Mens is mens. Sy geheue is kort. Vinnig sal ons weer ons dae volkry met onnodige dinge, ons onsself oortuig dat die gejaag na wind betekenis het, ons prioriteite weer verkeerd om kry omdat ons prioritiseer volgens horlosies en kalenders en nie volgens dinge wat werklik ewigheidswaarde het nie.
Aanlynforums het bestaan en is gebruik lank voor Covid-19. Die intensiteit van gebruik het net toegeneem. Jy kan nie iets wat net meer intens is, nuut noem nie.
Ons het al op skool in standerd 2 in Gesondheidsopvoeding geleer dat hande was, kieme doodmaak. Dat nies, kieme oordra. Dis nie nuut nie. Dit is vandag net meer intens onder ons aandag.
My kinders gebruik elke herfs galonne sinusmedikasie, Iliadin-neussproei en Panado, vitamienaanvullings en natuurlike remedies, noem maar op, nèt om hul sinusgeteisterde lyfies deur ñ skooldag gesleep te kry. Tydens hierdie afsonderingsherfs – NIKS. Nie ñ druppel medikasie nie, met die uitsondering van ñ hoofpyn of twee. Isolasie hou mense, veral kinders, gesond van àlle peste en plae.
Om mense te mis hang ook altyd vir my aan twee waarhede: die eerste is ‘absence makes the heart grow fonder’ en die tweede ‘uit die oog, uit die hart’. Welke een van die twee is waar? Beide. Dit hang af van die intimiteit en aard van julle vriendskap. Ou gesegdes. Ou waarhede. Steeds relevant.
Reeds voor Covid-19 is daar artikel op artikel op artikel geplaas oor mense se behoefte aan aanraking, aan mekaar, die jeug se onvermoë om te sosialiseer – alles weens oormatige skermtyd. Ons was reeds eksperts daarin om onsself van mekaar te isoleer deur in die skermpie voor ons in te verdwyn.
Het ek gedurig vir my studente preke afgesteek oor hoe ñ ware man nooit met ń meisie per WhatsApp of per skerm opbreek of uitmaak of haar vir ñ eerste keer uitvra nie. Ruggraatloos, verfoeilik, be a man!
ñ Hele generasie wat my sit en aanstaar asof ñ T-Rex nou net by die klas ingestorm het. In die breuke tussen klasse daal ñ doodse stilte neer soos wat hulle ‘sosialiseer’. Per WhatsApp! Op TUKS, jare gelede waar ek studeer het, was dit tussen klasse asof ñ swerm bye losgelaat was in die gange – zoemende op pad na die heuningpotte van mekààr.
Hier, in die donker stilte van 4:55vm, is ek vergeefs op soek na hitte by die knetterende vuur van tyd wat brand. Al die wonder in die wêreld help niemand. Tyd self sal leer presies hoe nuut dinge werklik sal wees.
Ons buurvrou het gevra vir broodmeel as ons winkel toe gaan. Koop ek maar vir ons ook ñ pak. Die SPAR op Hartbeespoort het net 5kg-pakke gehad.
Begin Helgaard laatmiddag om die pak maal.
“Het jy ñ resep?”
“Vir?”
“Brood!”
Hy gebruik toe wraggies van die gis wat ek gekoop het om pynappelbier mee te brou, om sy brood mee te bak.
Daar is min dinge wat so behaaglik voel soos ñ huis wat ruik na varsgebakte brood en mense wat opgewonde kwetter oor wat hulle alles op hùlle brood gaan smeer.
Helgaard het sy snye met olyfolie, sout en balsamiese asyn geëet. Ek het ook en dit was lekker.
Saam met die glas rooiwyn, met die stomende brood op die plank het ek opeens aan my drie ooms gedink. Daar lê baie onthoue in proe.
Ma se oudste boetie, oom Danie, sou sy wit brood net so in sy glas rooiwyn druk en eet. Sy tipe behaaglik! Oud weermaggeneraal. Jintelman en geliefd tot die dag van sy dood.
Oom Johan, Ma se jongste boetie wat tans alleen deur sy dal van doodskaduwee worstel, sou hom eet met grondbootjiebotter en baie stroop. Sy tipe behaaglik lê in soet.
Oom Billy, Ma se middelboetie, sou syne heel waarskynlik eet met Ouma se snipper-perskekonfyt. Oud-Krygkor-kommunikasiehoof met korrekte maniere en ñ korrekte snor, gerangskik rondom ñ hart wat aan die binnekant pure goud glim.
Ma sou vyekonfyt of Lyles se goue stroop opsmeer.
Later, alleen in die kombuis, het ek die brood bekyk, ñ stuk afgesny en botter en KOO se appelkooskonfyt opgesmeer. En toe is dit lekkerder as olyfolie en balsamiese asyn. Toe proe gebakte brood asof hy betekenis wil kry.
As ek sien wat oor is van ñ 5kg-pak broodmeel, het hierdie brood ons ongeveer R2,75 gekos en sal Helgaard elke week kan bak vir die hele winter; soos manna op weeksdae.
Tyd sal leer. Elke mens wat aan die einde van al hierdie kan uitstap, sal uitstap met sy eie betekenis. Met sy eie onthoue, met sy eie mense wat uit die hart geval het en ander wat jy gaan wil druk en vashou.
Mag ons die betekenis wat ons hieruit gaan saamdra, deel maak van onsself. Dat ons nie net op slapelose nagte langs die koue vuur van tyd wat brand sit en futiel daaroor droom nie.
(c) sureta von holtzhausen