Die dag het nes Ingrid Jonker se gedigdag, met ñ pouveer in sy hoed kom aanmeld. Blinkblou en smaraggroen. Die deinserigheid oor die dam die belofte dat Winter op hande is.
Skryf ñ viruloog van Potch Universiteit (NWU) vandag dat die virus nou vir altyd met ons is. Virusse sterf nie sommer uit nie. Inperkings koop net tyd om hospitale slaggereed te kry en om wetenskaplikes tyd te gee om teenmiddels te ontwikkel wat nog 6 maande tot ñ jaar kan neem. Die duisende mense wat die virus reeds a-simptomaties gehad het, of met ligte simptome, het wel teenliggaampies, maar dit blyk deur onbevestigde navorsing dat hulle kan re-infekteer.
“Hierdie is heel waarskynlik die Derde Wêreldoorlog,” het oom Nic gister gesê waar hy in die pad in Karelstraat staan en ek in die kombi bly sit het, “eintlik briljant uit die Sjinese se oogpunt,” het hy sonder verwondering bygevoeg.
Die agterdog dat Sjina die virus in ñ laboratorium vervaardig het, bly maar in die meeste van ons ingesement.
“Dit ís, Oom. Geen missiele en wapenbegrotings of verwoesste stede nie. Net verwoesste lewens.” Die perfekte oorlog.
Hulle dogter werk in die toerisme-bedryf en niemand vlieg nou nie. Pensioengelde is in aandele belê wat tans vryval.
Oral met die straat af het elke mens sy of haar eie storie van die veldslag waar Korona gewen of verloor het. Oral in die wêreld het elke mens ñ storie oor Die Veldslag van Korona.
Die vrou op die hoek werk by ñ naelsalon in Pecanwood. Sy vra uitstel om haar huur te betaal. Gaan naels enigsins ñ prioriteit wees in fase 1 of 2 of 3 van inperking? Wanneer sal sy dalk ooit weer haar huurgeld kan bekostig?
Mense wat moes emigreer sit hier gestrand met net hul tasse by hulle – al hul goed reeds dobberende in ñ vragskeephouer op pad Nieu-Seeland toe.
Kinders lê alleen in hospitale – die trauma om willens en wetens van jou ma of pa geskei te word juis wanneer jy weerloos en siek is; daardie is een van Korona se permanente wonde- ñ gees wat hinkepink is erger as ñ ledemaat.
Mense wat in polisieaanhouding weens die oortreding van inperkingsregulasies aangerand word tot by gebarste oordromme en angsmedikasie – ñ gewonne veldslag vir Korona.
Mense moet mid-egskeiding saam in een huis woon of kontakregte met hul kinders probeer uitoefen of net die skikkingsakte by prokureurs onderteken kry, maar nie nou kan nie – alles veldslae wat die gees verwond.
Sommige mense pak tuis rakke reg, dink grappies uit en sluk rou eier terwyl die bankrekening leeg bly; sekere industrieë werk harder as ooit al word jy ingelig jou inkomste word nou gesny; sommige besighede sal nooit weer oopmaak nie en kollegas sal mekaar nooit weer sien nie; veldslae gewen – instansies in puin sonder die knal van ñ ontploffing.
Een vrou berig op facebook van haar dogtertjie se emosionele insinking oor sy haar maats by die skool mis, haar grootouers, die skoolgaan self. Check in with the little ones, skryf sy. They sometimes do not have words and just behave badly.
Ek wil amper terugskryf: Grown ups as well. They behave angrily. It is called sorrow.
Nietemin plaas ek my drie in ñ sirkeltjie en, al lyk dit asof hul deesdae gedy en gesels en speel na al die skoolwerk, gaan ek die vraag pertinent aan hulle stel.
Ons het pas saam met ons Kaapstad-gemeente regdeur Johannes gelees. Johannes het 21 hoofstukke. Ons is verwonderd oor Jesus se menswees – ek meen, die boek Johannes eindig met ñ braai op die strand – en wat ñ beter plek om jou diepste dinge met jou naastes te deel as rondom ñ warm vuurtjie en jy wat uit liefde vir jou mense, vir hulle ñ vissie op die kole gooi. Jy wat met hulle praat oor jou Pa en hoe jou Pa wraggies hùlle Pa ook is. Kom net flippin huis toe! Dan word jou hart sommer heel. Dit alles terwyl vet vissies sis op die kole en die geur van geroosterde brood strandlangs talm.
Hy wat laasweek dood was en nou braai op die strand.
Nietemin, die kinders is nog verwonderd toe ons vra: “Vian, hoe gaan dit met die skoolwerk? Is daar ñ vak waaroor jy jou bekommer? Wat jy dalk onrustig oor voel? Lamont? Kiana?” Vian worrie oor Wiskunde.
Ek hoor. Ek hòòr. Ek kry nòù nog die nagmerrie dat ek vir Geskiedenis leer (wat ek nog nooit as keusevak gehad het nie!) en dan kom ek by die skool, dan skryf ons eintlik Wiskunde. Word ek wakker met ñ koue angs wat my hele lyf verlam.
“Toemaar, my kind, ons sal môre kyk na daai wiskunde.”
Lamont werk dat dit klap aan sy achilles heel – Afrikaans en Engels.
Kiana is doodgelukkig met haar skoolwerk. Veral omdat sy dit tuis kan doen. Veral omdat sy nou tyd het vir haar Vier Pilare vir Binne-Vrede.
“Hoe voel julle oor die lockdown? Die inperking? Enigiets wat julle pla?”
“Hoe bedoel Mamma?”
“Ek weet nie – ek wil maar net hoor of julle iets erg mis daar buite wat julle gewoonlik in ñ normale week sou doen? Waaroor sal julle byvoorbeeld baie bly wees as die president vanaand sê julle moet Maandag teruggaan skool toe?”
“Wat?! Moet ons Maandag terug skool toe?!” Pandemonium.
“Nee-nee! Ek sê AS!”
Hierdie gesprek loop nie heeltemal volgens plan nie.
“Mamma,” snap Kiana die ding, “ons is mèèr as oukei. Ek kan vir ewig so aangaan.”
“Ek ook,” laat hoor Lamont en Vian in ñ koortjie.
“Ons gaan nie Maandag terug nie, nê?” maak Vian net doodseker, en hop dan op een been uitgelate by die vertrek uit.
Veldslag gewen. Korona 0 – Skoolkinders 1.
Laatmiddag het die berg onderstebo in die plot se dam omgedop.
Jy loop in dankbaarheid met die plotpad af, maar intens bewus van al die veldslae wat om jou afspeel: Seisoen 1 van WW III.
Kom ons hoop die laboratorium-gekweekte suspisies word nie bevestig nie. Kom ons hoop die Groot Moondhede soek nie retribusie vir so ñ beweerde misdryf teen die mensdom nie. Want ons gaan nog lank steier onder die gevolge van Seisoen 1.
Mag Seisoen 2 van WWIII nooit gebeur nie. Daar is genoeg dinge in puin gelê deur hierdie sjinese virus – hetsy vanuit ñ laboratorium, hetsy vanaf vlermuissop.
Vanaand het Cyril Ramaphosa ons opgradeer vanaf Fase 5 Inperking, na Fase 4 Inperking wat op 1 Mei in werking sal tree. Jy is nie seker of dit ñ op-of ñ afgradering is nie. Al praktiese implikasies wat jy kon uitmaak is dat Pa en Helgaard weer vanaf volgende Vrydag vryelik sigarette kan koop, en dat hulle ñ masker moet ophê terwyl hulle dit doen. Verder klink dinge min of meer dieselfde. Tyd sal leer of ons tans Die Perfekte Oorlog beleef, of slegs die veldslae stry van ñ uitsonderlik-gewone pandemie.
(c) sureta von holtzhausen