Daar is aan ñ Vrydag maar altyd daardie ingekondisioneerde gevoel van dreigende vryheid wat ñ mens ligvoets laat opstaan. Dan is jy verydeld-vry vir twee dae lank binne die verpligtinge van skool en kerk en sosiale dinge, sodat jy Maandag goed opgeneuk weer in die boeie van die week se roetine moet terugklim.
Sedert skooldae beleef ons die immergewilde Vrydaggevoel, die minder gewilde Sondagmiddag-blues en dan die skop-in-die-maag-Blou-Maandag-oggende as die wekker afgaan. Die ander dae is maar bloot Die Ander Dae met hul dinge.
Die dag het mild en wyd om ons gebreek. Agtermiddag se wolke het helder in die blou koepel rondgehang en toe voor sonsak al gewyk.
Ek was verlig om die week se klasse teen midddagete afgehandel te hê en het met my koppie tee by die swembad gaan sit en vir die tuin gekyk. Die kniehoogte Jakob Regoppe blom baldadig, die dahlias se saadkoppe buig swaar af grond toe asof hulle bid om in die donker grond te gaan rus totdat ñ nuwe seisoen se hitte hulle daar laat uitspruit. Ek het gesien hoe daar nou al drie boslelies blom asof dit lente is.
Vier hadedas het vir my geskrik en krys-krys opgevlieg. Ek het ñ lys van voëls probeer maak wat skree terwyl hulle vlieg, sommernet in my kop
terwyl ek my tee drink: hadedas, visarende, eintlik heelwat arendspesies (dink cowboy-flieks en daardie arendfluit oor verlate canyons), my sussie se wild geese in Kanada wat in V-formasie al skrouende die lente vir hulle terugneem Red Deer toe en in hulle herfs weer met die hitte wegvlieg, seemeeue, tarentale wat opskrik, fisante wat skrik. . . Toe moet ek die lysie in my kop oorbegin want skrik tel nie.
Die son het ñ loute teen my ruggraat opgestuur; warm teen my wang gelê. Cheryl Strayed. Ek moet haar weer lees. Haar ander goed ook. Wild. Tiny beautiful things. Dit was sy wat geskryf het: And then one day you find yourself alone on a bench in the sun and you close your eyes and lean your head back and you realize you’re okay.
Dit is asof die maand alleen, in veilige geselskap, die rafels van vergange mense, van afgehandelde vriendskappe, van sommiges wat jou pad moes kruis, van jou afgevee het.
Sommige van ons dra langer aan mekaar as ander. Klompe dinge wat nooit gesê is nie, los ente wat gehang het, droesem wat die hart se fonteine vertroebel. Asof hierdie dae sonder beweging en ontneem van buite-impulse, jou tot ñ mate die geskenk van jouself kom teruggee het en jy in jou eie vel met jou eie hart alleen op die plot rondloop en jy amper wil sê welkom-frikkin-terug!
Tyd alleen heel niks. Dit is wat jy met die tyd maak wat sorg vir groei of vrede of gebreek bly.
Om amper ñ maand afgesonder te wees van die wêreld se ritme, die wêreld se stemme, die wêreld se onnodige doenlysies het die hart laat beweeg in rigtings wat jy slegs opmerk as jy iewers alleen gaan sit, met jou hande om jou warm koppie, en jy lysies begin maak oor voëlvlugte of skrywers wat nog met jou moet praat of hoe dit weer voel om meer jy te wees.
Op sondeurdrenkte Vrydagmiddae doen selfs die kinders ander dinge. Lamont en Kiana het elkeen ñ sewe-koppie-broodmeel brood gebak en ek en Helgaard het die een brood warm vir Pa en Ma gaan afgooi.
Ma het begin planne beraam oor hoe sy en haar vriendin in Vlak 4 Inperking gaan begin stap. Die ding begin haar vang. Ma is die een wat smôrens ver gaan stap, Dinsdae in haar kar klim en alleen in Brooklyn gaan fliek- soms sommer twee flieke agter mekaar- Woensdae oefen sy, Donderdae Bybelstudie en Vrydae gaan sy aan’t kook vir die naweekkuiers. Pa het sy pad tussen die voordeur en sy garage – elke dag. Hy was wel twee keer Obaro toe en een keer Dreiers Hardeware toe, maar het elke slag ñ bloutjie geloop.
“Hoe mag jy ñ hàmer koop, maar nie ñ handbyl nie? Niks van hierdie nuwe regulasies maak sin nie. Toe koop ek ñ klein yspik. Dit werk nie!”
Daar het ook ñ effense omgehelgeit in die dag kom lê toe ek by die TV-kamer instap en my boks is gebreek.
“Wat het hier gebeur?!” bulder ek vanuit die vertrek.
Die kinders lyk verward, Helgaard kyk rond en trek sy skouers op.
“Wie de hel het my Ouma, MY OUMA se boks gebreek?”
“Daai leë boks?”
Die boks staan al maande langs die bank in die TV-kamer. Geen knak in die karton nie. Glad en regop en fier net soos Ouma Tienie se lewe was. Sy het haar kerkhoede in daardie boks gebêre. Elkeen sorgvuldig toegedraai in die plastiek waarin sy hulle gekoop het. Die boks het nog ñ plakker op wat lees: Fon’s Bakery & S/Market (CIGS), 381 Willem Erasmus Street, Erasmia.
Ek en Lize en Oupa Toerie het elke slag as ons daar gekuier het, die langerige opdraende na Fon se kafee opgestap en weer terug na Ouma-hulle se huis in Petrus Myburghstraat. Al geselsende; ons Lucky Strike swietssigarette wat Oupa vir ons gekoop het, as hy vir homself pyptwak by die Griek koop, wat by ons mondhoeke uitgang soos òù rokers.
Dit is ñ Chesterfield-sigaretboks met ñ formele stempel daarop wat lyk na iets soos ñ reeksnommer. Ek wou een van die boks se sye laat raam. En nou is daar ñ knak aan die een kant en ñ gat aan die anderkant.
“Dit was Kiana, Mamma,” kom Lamont daarmee uit, “sy wou op die bank sit, toe klim sy oor die boks en val. Maar dit was my skuld. Want ek moes my bene geskuif het.”
“Maar hoe kom die boks vòòr die bank?!”
Alle oë draai na Helgaard.
“Dit was Pappa. Hy het Kiana gehelp om daardie halfgeverfde skildery uit te haal.”
“Bring julle fone. Èn julle rekenaars!”
“Oor ñ boks…..?” probeer Vian en bly summier stil toe my wenkbroue opskiet.
“En jy….!” Aan Helgaard.
Ek stap uit.
Dit was my skuld. Ek moes al lankal by die ramery van ñ klomp goed uitkom. Maar oom Faan Naudè se winkel is toe en ek hou aan vergeet om uit te vind of hy dit nog by sy huis doen.
Ek het hulle die kombuis laat opruim. Helgaard het gedurende sulke tye klaarblyklik ñ plek in die huis ontdek waar ek hom nie kan kry nie en hy blykbaar niemand kan hoor roep nie.
Ek het die boks op die lang tafel gaan sit, die verwoesting gade geslaan en maar langs die boks en my effense weemoed, gaan sit. ñ Leë boks vol dinge wat net ek kan sien.
Dit was ñ stil aand. Vian het begin lees, Kiana het gaan skoolwerk doen en Lamont was in sy kamer doenig. Oor ñ stukkende boks.
Somtyds moet ons weet dat waarde nie ñ ding is wat altyd deur die buitewêreld bepaal word nie. Die kosbaarste skatte word deur die hart bepaal.
Dit maak nie saak waaruit die hart se opdrifsels bestaan nie, jy sal op ñ dag alleen iewers in die son sit en weet – alles is oukei.
(c) sureta von holtzhausen