Saterdag het lou en loom en ligdeurdrenk gebeur.
Dertig slapies, ñ hele maand, ñ volronde getal met ñ kersdagdatum.
Die amper heilige stilte wat die eerste drie weke ñ konstante herinnering was aan nuutword en bedreiging, en selfs dood, word al reeds die afgelope week verbreek met motors wat voortdurend op die hoofpad anderkant die begraafplaas verbysnel. Die dae word weer stadig vol met al die gewone geluide en sommige mense om ons is nie almal so gehoorsaam aan Covid-regulasies en self-isolasie nie.
Die mens is ñ ou kalant wat homself maklik sus met verontskuldigings en as die moeilikheid aanmeld is daar gewoonlik blaam en skok en word daar gesteun op die ou verweer van beweerde onkunde.
Ma en Pa is in hul eie huis en sien net vir ons. Ons probeer hulle blootstelling in winkels beperk en gooi nou en dan brood en groente, melk of sjokolade (dis belangrik!) of ander proviand daar af; soos die whiskey vir Pa wat Helgaard eergister uit die spens gegrawe het (ook baie belangrik!).
Die kinders was nog nie van die plot af gedurende inperking nie; Kiana een keer.
Ons besluit Ma en Pa moet sommige naweke hier kom bly, aangesien dit blyk dat mense oor die ouderdom van 60 nog baie lank ingeperk gaan word.
Die projeksie is dat Suid-Afrika die piek van Covid-19 in September 2020 gaan tref. Dit is nog 5 maande. Sommiges beweer ons sal nog vir die volgende twee jaar uitgelewer wees.
Kry ek ñ mooie WhatsApp van ñ vriendin wat hierdie week skryf hoe sy haar pa in Krugersdorp, wat in Gauteng val, mis. Hoe hy na elke Skype-oproep sy hande vou asof hy haar hande daarin wil toevou. Sy kry swaar, skryf sy.
Om iemand te mis is ñ bittersoet voorreg. Dit beteken jy het lief.
Hartbeespoort val onder die Noord-Wes provinsie, maar heelwat Hartbeespoorters werk aan die Wes-Rand, Johannesburg en nog meer van ons in Pretoria en omtes. Baie van ons se kinders gaan in Pretoria skool. In ons koppe is ons Pretoria se mees-westelike voorstad knap anderkant Danville en Atteridgeville. Ons het almal vriende in Pretoria of Johannesburg, familie, maar dis oor ñ provinsiale grens heen, so dinge neuk deesdae. Soos ‘n amper deurskynende, lighartige weergawe van die Berlynmuur kan families en geliefdes nie bymekaar uitkom nie.
Nog 6 slapies dan tree Vlak 4 in werking. 1 Mei. Lapmaskers in openbare vervoermiddels en in openbare plekke is dan wetgewing.
Bo teen die hoofpad bly die plot se werkers. Hulle het net hierdie huis. Hulle families is almal in ander Afrika-lande.
Hulle is vreesbevange vir die virus en Annelize, ons buurvrou oorkant die fontein, gaan met hulle lysies winkel toe as sy moet ry.
Stap ons laatmiddag met die plotpad op. Afrika-musiek hou sag ritme in die klein lapa. John Kaunda, die plot se Voorman oor Tuine, sit in die ligkring van sy naaimasjien onder die soetdoring en stik lapmaskers met drie lae lap.
John maak vir Queen, sy vrou, sommer in ñ oggend se tyd ñ rok of twee van Kitenge-lap. Kitenge lê diep in my hart se onthoue na ons besoek aan Tanzanië in 2017. As jy van iets weet, sien jy dit ook oral raak; kyk jy met ander oë na die vroue wat dit dra.
Ek het vir ons vyf, en vir Ma en Pa en Abel en Rosinah elkeen ñ kitenge-lapmasker by John bestel. Daar is grys maskers ook vir die meer besadigdes onder ons.
Calisto Mashiringo, ñ oud-Zimbabwiër en Bonita Potani met Kim op die rug gesels met Queen waar hulle almal om die vuur sit. Die koue knyp al saans wanneer die son agter die berg inval.
Wakati het reeds met sy flitslig die plot se grensdrade vir die nag begin patroleer.
Ons loop vir Annelize raak, en op ñ veilige afstand stap ons almal dam om, terug na ons huise. Sy het vroeër die week vir my twee lietsjie-boompies wat sy sommer met pitte laat opkom het, by my voordeur gelos. Op haar beurt van my dahlias se saad kom oes. Daar is ñ knaende ruilhandel op die plot aan die gang van steggies en sade en saailinge en wenke oor peste en plae.
Die aand lê koel en wyd om ons. Kiana se oë vind die sekelmaan wat net-net bokant die kranse begin glim; ñ fyn silwer kurwe asof ñ engel per ongeluk sy glim-pen teen die donker lug laat afval het en daar nou ñ skewe strepie teen die hemel getrek is.
Ma het die aand om die vuur vir ons vertel van haar en Pa se studentedae op Stellenbosch. As getroude studente was geld nie volop nie, maar mense met goeie harte was wel. Bekende stories wat ek oor en oor na kan luister omdat dit op ñ manier die skilderye van ons familiehuis is.
Pa wat met R10 terug in Stellenbosch moet kom per trein vir ñ Fisika-hereksamen. Die kondukteur se goedheid.
Stories vir ñ ander dag.
In hierdie tye waar daar ñ tipe Berlynmuur tussen mense opgerig is, is dit net die hart wat kan oorklouter. Tee se karakter kom uit wanneer daar kookwater op die sakkie gegooi word. Dieselfde met mense. ñ Mens merk dit oral op; hoe elke mens se karakter in moeilike dae onverdund begin deursypel. Eties of oneties; omgee of misbruik; gemeen of genadig. Soos die waters van Korona al hoe warmer gaan word, so gaan die karakters onverdund hulself begin uitwys.
Laatnag het Pa voor die klavier gaan sit en gespeel en gespeel. Stuur groete aan Mannetjies Roux. Wilgenhof se huislied. Grote God aan U die eer. Kinders van die Wind. Nkosi Sikelel’ iAfrika; die deel van ons volkslied wat Pa mee grootgeword het as ñ ou sendelingliedjie. Slapie Kanienie. Ek weet dis eintlik ‘Slaap, Pikanini,’ maar as klein dogtertjie het Pa vir ons op die kitaar gespeel en sal dit altyd vir my wees: Slapie Kanienie, daar’s fees in die kraal, al ons ou skapies en bokkies.
Pasella en Salomo en Skeba het eindelik die bal en tou waarmee hulle uur na uur kan speel gelos, en op hul kussings aan die slaap geraak, die kinders was in die kantoor besig om hulleself bang te speel aan Granny, ñ rillertipe speletjie waar jy uit ñ huis moet ontsnap voordat ñ ou tannie met ñ sagtebalkolf jou beetkry. Ek en Ma en Helgaard het om die lang tafel gekuier.
Die nag was stil en donker en vreedsaam. Net die klavier se note het deur die stoepdeur na buite geval en gaan wegsweef na waar die engel se skewe strepie nou hoog bokant ons geskyn het.
En seën my ma. En seën my pa. En my oom op sy plaas in Afrika.
(c) sureta von holtzhausen

**John se maskers kan jy by hom bestel. Hy is op facebook. John Kaunda.
Ek sal ook vir hom ñ boodskap gee as jy deur my selnommer wil werk.