Vryheidsdag in Grendeltyd

Mistroostig het die dag buite al hoe meer gewinter en binnenshuis het ons al hoe meer gekuier.
“Lamonnas, vandag maak ons kaggel. Kry gou vir ons fyn houtjies.”
Lamont het met sy twaalfjarige voortvarendheid die panga gaan haal wat hy ons in Tanzanië maak koop het en begin kap aan die dikkerige takke van die suurlemoenboom wat ons ñ tyd gelede moes uithaal.
“Los!” sê Pa toe Helgaard lyk asof hy wou keer, “Op sy ouderdom het ek al hoeveel hoenders moes kop afkap en slag. ñ Tiekie ñ hoender. Kamstig. Nooit die geld gesien nie. Daai jare was die oumense anders. . . “
“Lamont! Onthou net as jy daar ñ maermerrie oopkloof of ñ voet afkap moet jy alleen hospitaal toe! Ek en Pappa mag nie saam nie. Kyk mooi,” roep ek na hom van die stoep se kant af.
“Ja-a-a, Mamma!” roep hy terug en kap onverpoos voort.
“Hy het wragtig daardie tak deurgekap!” sê Pa ñ halfuur later trotsverbaas, “Tien uit tien, Lamont!” roep hy na Lamont waar hy aangestap kom en die blase op sy hand vir ons kom wys.
“Ouch,” sê Ma, “kom Ouma plak ñ pleister op.”
“Nee, Ouma, dit moet hard word. Vir boomklim. Kyk hier, laasweek was hierdie ook blase van boomklim. Nou is dit so harderig.”
“Mens noem dit ñ eelt, Ouma se kind.”
“Oukei. Ek wil my hele hand ñ eelt hê sodat ek lekker kan klim. Ek gaan net gou iets eet. My maag is grommerig,” en hy gly die panga terug in sy rooi skede en verdwyn kombuis in.
“Ek weet nie hoe julle daai kind gaan volkry nie,” verwonder Ma haar aan hom, “Jy beter ñ pot pap op die stoof hou. Kyk hoe lank is hy! Vir graad 7!”
Die vroegwinter se bries het begin stoot en herfsblare het geel grond toe gewarrel. Stories van ñ seisoen wat verby is en nou op die gras bros word.
Daar was te min suurlemoentakke en hulle sukkel om te brand. Ek en Pa het ekstra hout loop koop by die kafee. Kiana het heelagter in die kombi saamgery; Pa op die bank agter my wat bestuur het. Ons drie met ons maskers, elkeen op sy bank. Vir Pa is die lewe ñ lied en as jy nie meer die lied kan hoor nie, dan sing jy jou eie lied.
Hy het eendag vir oom Leendert, ñ fisikus van A.E.K., amper tot moedelose trane reduseer met sy petrolresep.
“Jy plaas hom mos onder hoë druk, Leendert. Die pype van ñ ou stookketel sal ook kan werk.”
“Nee-nee, Thys, dit kan jy niet. Jy kan niet!”
“Natuurlik kan ek, Leendert. Hierdie petrolpryse maak ons dood. Dan moet ons kyk na waterstof as aandryfmiddel.”
“Dit is gespesialiseerde toerusting, Thys! Jy gaan ontplof!” Oom Leendert was raadop. Tannie Gezina het net daar langs haar man vir Pa staan en lag. Sy het verstaan.
Maar daar was ook altyd ñ stukkie erns by Pa se gesprekke.
Gesels ons met die Griek in die kafee. Hy kikker altyd op as Pa instap. Probeer self ñ grappie maak en dan wys hy na Pa se been.
“What did he do now?” vra die Griek my.
Pa het Donderdag ñ angle grinder laat val. Die lem het ñ lang sny teen sy been af geskroei en amper sy garage-Crocs oopgekloof. Toon persblou en geswel waar die angle grinder geval het.
“Don’t ask. You know this guy!”
Die Griek het net gelag en sy kop geskud, “For a dentist, he is very adventurous!”
Met die uitstap staan daar ñ polisielid en betaal iets. Ek en Pa sien tegelykertyd die wapen in die holster sommer hier neffens ons en ek weet net hier kom ñ ding.
Ons stap agter hom verby en Pa se vinger skiet effe uit asof hy die wapen uit die holster wil gaps. En dan stap hy verby. Ge-flippin-nadiglik!
“Pa! Ek kan nie vir Pa ñ na-ure borgaansoek doen nie! Dink Pa daai polisieman gaan verstaan Pa het net gegrap maar sou nooit ?! Hulle het nie ñ sin vir humor in hierdie dae nie! Pa! Wat as hy op daardie oomblik omgedraai het en Pa gesien het! Hy sou nie verstaan het Pa terg net nie!”
“Waaroor gaan jy tekere?” lag Pa, “ek het mos niks gedoen nie?!”
Dis waar. Hy het niks gedoen nie. Maar daardie vinger wat effe uitskiet het my sommer net laat weet waarheen DINK hy dalk. En net daardie ondeunde dink het my vooruit bekommerd gehad.
“Is seker. Maar Pa kon…”
“Oh my soul, Oupa! Ek dink nie Oupa moet met die polisie grappies probeer maak nie.” laat hoor Kiana wydogig.
“Ag, my Poppie. . .” maar Pa het net gelag vir ons ontstoke gesigte. Partykeer, as jy iemand goed ken, gaan jy al tekere oor iets wat nie gebeur het nie.
Ma het bykans ñ oorval gekry toe sy later hoor van daardie vinger van Pa wat uitgeskiet het, en genadiglik weer laat sak het.
“Mathys!”
Ek en die kinders het wasgoed opgehang en met elke bondel was hulle ietwat meer behendig met die ophangery.
Die kaggel met die Grieke by Foodzone se stompe en die groot stukke suurlemoenhout het begin knetter.
Die huis was vol warmte. Ek het voicenotes begin opneem van Pa se lewensbeloop van 0 tot tans.
Hy het voor die klavier ingeskuif en begin sing: Dis ñ lekker lekke’ lekke’ lekke’ lewe op Normaal, is dit nie? Normaal’s ñ lekker lewe! Kannie, worrie worrie worrie, kannie worrie worrie nie! Normaal’s ñ lekker lewe!
“Waar de heng kom jy aan hierdie lied?” vra Ma.
“Onthou jy nie? Toe ons in Umgibeli gebly het, het die onderwysstudente dit altyd in die straat loop en sing?!”
Umgibeli in Kotzestraat in Sunnyside is waar Ma en Pa gebly het nadat hulle getroud is en hy op TUKS tandheelkunde kom swot het.
Destyds was Normaalkollege skuins oorkant die College Tea Room in Mearsstraat, ñ belangrike sosiale baken in Pretoria daardie jare.
Laatmiddag het ons die wasgoed loop inhaal. Klam wasgoed om 17:00 beteken net een ding: die winter is hier. Ek het op die uitroldraad in die TV-kamer en oral op die trapreëling die wasgoed weer uitgehang.
Ma het die melktert wat sy laatoggend begin maak het, gaan klaar bak. Die plotte se krag het net voor middagete afgegaan en eers duskant 18:00 weer aangekom.
Ons het ñ bottel Solms Delta rooiwyn met die naam HIERVANDAAN, oopgemaak, voor die knetterende kaggel gaan sit en wag vir die groentekerrie op die stoof om klaar te prut. Vian was heeldag al verdiep in sy boetie se voorgeskrewe boek, HOLES. Hy probeer al heeldag alles met een hand doen, die geel boek vasgeknyp in die ander hand.
Laataand het ons Ma se lou melktert geëet, klein glasie edel-Laat Oes daarmee saam. Ons is op rantsoene. Ons mag steeds nie Vrydag wyn koop nie, want wyn is nie deel van Fase 4 inperking nie.
Hiervandaan sal ons algaar kan sing en onthou, normaal is ñ lekker lewe!
(c) sureta von holtzhausen