Die reën het heelnag geval. Teen donkeroggend trek jy die duvet teen jou ken vas en is salig bewus daarvan dat geen wekker jou vanoggend in verkeer en stukkende robotte gaan indwing nie.
Die olienhoutboom se netjiese kroon het die heeloggend dan hierheen en dan daarheen gewaai.
John het ons kitenge-maskers gebring met kitenge-toutjies en al. Ek het hom R50 per masker betaal al het hy gesê hy sal my R40 vra. Om toutjies te stik lyk vir my na flippin harde werk.
Salomo is ñ baldadige ekstrovert van ñ brak, maar is die afgelope ruk te bedees vir sy geaardheid. Hy eet, soms met oorgawe, maar nie meer so lustig nie. Hy speel, maar hou gou op. Hy blaf nog steeds op sy hardste, maar lê te veel met sy ken plat op die grond.
Nadat ons Salomo weke lank bekommerdrig bekyk en hy gediagnoseer is met enigiets van ligte depressie tot ligte kanker, merk Helgaard nou die dag sy afgebreekte oogtand op.
Pa bekyk Salomo se tande en bevind dat daar twee gebreekte tande is.
“Hulle sal moet uit. Julle sal hom moet veearts toe vat.”
Vanoggend is Pa met Skeba aan haar leiband en Helgaard met Salomo aan sy leiband hier uit veearts toe. Skeba se heupe is besig om te verswak, maar ek weet dit nie – kyk díe kant toe.
Terwyl die twee op hulle veearts-uitstappie is, kry Pasella een van sy epileptiese aanvalle.
Dit is ñ beteuterde klompie honde vandag op hierdie werf byeen.
Ons gee vir Pasella sy pilletjie en gooi hom warm toe, Skeba kom terug met ñ ingespuite boud en nuwe pille teen pyn, Salomo moes vanaand terug veearts toe, sodat hy nie vanaand kan eet nie; môre-oggend ekstraheer dr Strydom-die-veearts sy twee oogtande.
Ek wonder of die tandemuis vir hondetande iets in die skoen sal agterlaat?
Die kaggel het vroeg begin knetter.
Die man oorkant die pad se jakkalse het mid-oggend al geroep; skoon deurmekaar met die dat die oggend persgrys soos ñ uitgeblomde iris bo-oor ons verlep het. Ysig en winterig, met Lamont en Vian wat voortdurend houtjies breek of stompe split vir die kaggel.
Ma en Pa is terug huis toe om die fort daar te hou.
Die drukker het homself flou gewerk aan die kinders se week se skoolwerk. Hulle is ook flou gewerk.
Dit het gisteraand 28mm gereën.
Daar is 90 mense in SA aan die korona-virus dood.
Ek het vandag 5 snye brood geëet.
Môre sal Salomo sonder twee van sy tande wees.
Skeba lê bedremmeld op haar kussing en wonder. . .
Ek wens ek kan haar sê dat al verstaan sy nie nou nie, môre sal als weer oukei wees.
Teen laatmiddag het die son eindelik deur ñ spleet tussen die horison en die grys voue wolke geloer gekry; gloeiend agter die groot balrokke van wolkkolomme bokant Kosmos se kranse.
(c) sureta von holtzhausen