Nadat Hartbeespoort vir twee dae lank soos ‘n tipe Atlantis onder ‘n grys stormsee sy gang gegaan het, het die laaste dag van Fase 5-inperking helder uit die nag gebreek soos Murano-glas. Kleur vol glimmende lig. Tasbaar.
Die kaggel brand nou al twee dae lank en die kinders het hom sommer uit hul eie aangesteek vanoggend, al het die son buite baljaar. Die huis is reeds koud. Die effense stomerigheid oor die vroegoggend-dam op die helder horison het laat blyk dat winter hier is. Ek sal dalk nooit kan sê of ek weet Winter 2020 het in April van hierdie jaar se laaste 3 dae aangebreek omdat ons lewens stiller is en of die koms van die seisoen net baie opmerklik was nie.
Ek voel effe gevlei nadat ek gisteraand, net duskant middernag, ‘n e-pos ontvang vanaf ene Wain Jaccarino. Tussen al die ‘you are a fuckhead’ en ‘Quit chilling in your house all day and fucking around, fuckface,’ (dit blyk Wain het vergeet van fase 5-inperkingsregulasies!) en ‘If you feel neglect the e mail and go on with your everyday living, you are undoubtedly fucking mistaken, buddie,’ kom ek toe uiteindelik agter Wain wil hê ek moet vir hom Bitcoin koop. Pleks hy net mooi vra. As ek dit nie doen nie, gaan hy blykbaar sorg vir, en ek haal weereens aan: your biggest ‘embrassement’. Ek verstaan nie mooi hoe nie. Die ydele dele van my vrouehart het glad nie embrassement ervaar toe dit blyk hy wil my embrassement bewerkstellig deur pornografiese videos met myself as die ster, te publiseer nie. Wààr in Nigerië (ek vermoed Wain sit iewers in Lagos) daar pornografiese materiaal met my as die hoofkarakter rondswerf weet ek nie, maar as die Ma van drie kinders en al anderkant 40 is die gedagte op ‘n vreemde manier ‘n kompliment. Ha! Wain het nie ‘n idee nie! Ek het egter steeds besluit om nie vir Wain Bitcoin te koop nie. (As jy die video kry, stuur asseblief vir my aan. Dis al wanneer ek ooit die silwerdoek sal haal, al is dit iewers in Nigerië ge-PhotoShop.)
Nadat die kinders hul skoolwerk voltooi het – alhoewel, Kiana in graad 9 se werk is nooit klaar nie, al sit sy die heel goddelike dag en werk bykans onverpoos! – en ek my studente in ons aanlyn-klaskamer gegroet het, het ‘n tipe langnaweekgevoel my tog beetgepak. Ek het ‘n besem gegryp, matte uitgesmyt en banke, stoele en tafels geskuif en begin vee.
Lamont en Vian het met ‘n stok en ‘n stukkende besem die matte op die draad gaan uitklop. Wolke stof en kaggel-as het in die son se ligstrepe gedans. Helgaard se vergadering het klaargemaak. Gryp tot hy ‘n tuinslang en begin die asblikke uitwas nadat die seuntjies al die sakke na die skip in die veldjie onderkant die tuin geneem het. Calisto het onmiddellik met sy vuurhoutjies nader gestaan en met Rosinah veilig weg in Mojakaneng, het hy die vullis aan die brand gesteek.
Ek moes Jasmyn toe. More is my en Helgaard se huweliksherdenking en dit is effe van ‘n uitdaging om op nommer 99 ‘n gepaste geskenk te kry met fase 5-grendelstatus in aksie. Ek besluit op kaneelstengels. Ek weet – koekies is nie baie romanties nie, maar die woord ‘kaneelstengels’ is. Ek het iewers gelees ‘n mens koop onbewustelik vir geliefdes die tipe geskenke wat jy graag self sou wou hê. As iemand vir my ‘n nuwe woord as geskenk sou gee, ‘n woord soos kaneelstengel, sal dit baie spesiaal wees. Ek loop ook die woord HELD vir Helgaard raak op ‘n sjokoladestafie. Want dit is die heilige waarheid. En oranje blomme. Ek pes oranje. Behalwe waar hy hoort in ‘n sonsak. Maar vir die eerste paar jaar van ons verhouding het Helgaard knaend oranje rose of oranje blomme aangedra. Totdat ek gevra het, hoekom? Hoekom?!
“Want dis jou gunsteling!”
“Nee. Regtig. Nee. Ek pes oranje.”
“Maar burnt orange is van die mòòiste kleure!”
“So . . . dis eintlik JOU gunsteling?”
Hy het effe gefrons, toe gelag, en toe beken.
En nou het ek ‘n sagte plekkie vir oranje rose. Dit is steeds vir my ‘n onmooi kleur, regtig onmooi, maar daar is nou ‘n storie aan die kleur. En stories maak baie dinge mooi-er.
Ek het die kitenge-masker wat John gemaak het agter my kop vasgestrik en myself in die kombi se tru-spieëltjie betrag. Herder. Iets is fout. Dit lyk asof ek reeds die korona-virus opgedoen het. Vaal!
As student het my vriendin, Gina, my aan Die Cosmo voorgestel. Dit is die heel eerste tydskrif wat ek as volwassene vir myself gekoop het, maand na maand. Ons, ek en sy en Theresa, het veral Sondagoggende op een van ons se beddens in Huis Erika gesit in ons pajamas, die standaard Sondagoggendontbyt van piesang en pie wat die eerstejaar gebring het se geur die kamer vol, Cat Stevens of Bon Jovi in die kassetspeler en Die Cosmo oop tussen ons. Ons het onsself slap gelag vir “How to please your man”, maar was dalk tog effe senuweeagtig oor die pleasery; ons het met groot oë gelees oor onreg en onsself gereed gemaak om die wêreld te gaan verander; ons het die verhongerde modelle se gesigsuitdrukkings nageboots, oë gerek en lippe pruilend, en weer gelag; gelees van hoe vroue sterker en sterker staan in die wêreld sonder om manlik te probeer wees. Iewers in 1992 was daar ook ‘n grimeerwenk wat ek my eie gemaak het: Bedroom eyes and nude lips OR a smear of mascara and strong lips. Ek het gegaan vir die ‘strong lips’ en nog nooit teruggekyk nie. Maar dit was ‘n wêreld voor maskers. Nou lyk die ‘smear of mascara’ onbeduidend. Ek lyk vaal en siekerig. Ek beter “Grimeerwenke vir kitenge-maskers’ op YouTube gaan soek.
Ek het die dam en die berg van Murano-glas begin afneem. Die middag was goddelik-mooi.
Salomo is steeds beteuterd, bedees, ore platgetrek, stert tussen die bene sonder sy twee slagtande. Skeba is haar ou self noudat hy terug is. Die blomkool het al vier blare, al het die stadsjapie steeds nie die saadname op sy spierwit naamkaartjies geskryf nie.
Môre breek Fase 4-inperking aan. Die rokers is nie meer bek-af nie. Hulle is nou kwaad. Aanvanklik sou hulle more weer sigarette kon koop, maar dit is tans geweier. Die wyndrinkers ook. Smokkelhandel is gesond en die enigste bloeiende ekonomie. Mense mag van môre af in ‘n radius van 5 km om hul huise begin oefen slegs tussen sekere tye. Sekere industrië soos babagoed en wintersklere mag weer handeldryf.
Die polisie het vandag mense sonder maskers by die Village Mall arresteer.
Daar is reeds 103 mense in Suid-Afrika dood sedert die uitbraak van Covid-19. Die Minister van Onderwys het vanmiddag gepraat en infassering van skoolkinders begin nou eers op 1 Junie, nie meer op 6 Mei nie, met die matrieks en Graad 7’s; afhangende van Covid-getalle en onderhewig aan streng veiligheidsvereistes en sosiale afstand.
Op facebook het die nuus gebreek: Cosmopolitan moes toemaak. In dieselfde publikasie-huis as Good Housekeeping en House & Leisure. Op dieselfde dag as wat ek weer onthou het van dae toe ‘n tydskrif die antwoorde en die vrae op baie lewensgeheime verskaf het. Ek het in jare nie ‘n Cosmo gekoop nie. Maar daar was ‘n kolletjie in my waar die weemoed vir ‘n oomblik die onrus verdryf het. Ook Edcon, met Edgars, Jet en CNA in die stal, is hierdie week in Business Rescue geplaas: ek het nooit gedink Edgars sou as my studente se voorbeeld dien in hul lesing oor Business Rescue vanoggend nie. Ek het ook nooit gedink Cosmopolitan sal toemaak nie. Nooit. Daar is dan elke jaar groepies jong meisies iewers in ‘n kamer vol mediese- of regshandboeke wat ook moet weet hoe om bedroom eyes te grimeer, of te weet dat jongmeisies in Afghanistan nog verbete baklei om gehoor te word.
Die dag het stadig gesterf. Asof die lig iewers uitdreineer het. Die man oorkant die pad se leeus het deur die nag gebrul. Ek kon die maer kind wat vanmiddag met sy rugsakkie op die sypaadjie gesit het, nie voor my geestesoog uitgevee kry nie: maskerloos en honger het hy net daar gesit; sy blonde kuif al wat in die bries geroer het.
© Sureta von Holtzhausen

*** vir my ma wat vra: Elsabie Strydom. Ek deel hierdie een net vir Ma❤️