-Sureta von Holtzhausen-

Die palings se blyplek oor eeue heen.

“Mattheus! Mattheu-eus! Kom nou, Mattheus, is jy nie honger ve’môre nie? Wat van jou, Markus? Markus?!”

Ek sal altyd met verwondering terugdink aan daardie oggend in Stilbaai langs ñ vlak poeletjie; ñ paar spoelklippe op die bodem, hier en daar ñ klossie riete, helder water, maar grotendeels ñ taamlik onopvallende plas water in die middel van die dorp. Die jongman het met ñ braaitang ñ stukkie maalvleis vasgeknyp, op sy knieë op die kant van die vlak poeletjie gegaan en die name van dissipels begin uitroep terwyl hy op die water slaan met die braaitang.

“Ah! Hier is Judas. Sjoe, maar jy is vraatsig, Judas!”

Waar daar ñ tyd gelede ñ sonkol oor die klippe op die bodem van die poel geklots het, vou daar nou moeiteloos ñ streep skaduwee onder ñ klip uit en word dit ñ yslike paling. Die paling neem die stukkie maalvleis netjies tussen die braaitang se twee knypers uit en sluk dit in. Pa en Ma se monde het oopgeval. In feit, die hele groepie mense daar versamel agter die outjie van die toerismekantoor kon skaars hul oë glo.

“Andreas en Jakobus is baie skugter. Hulle vat altyd hulle tyd om uit te kom.”

Een-een is elk van die twaalf reuse palings  wat die poeletjie ongesiens bewoon, onder hul klip uitgelok met ñ stukkie maalvleis en het hulle net so geruisloos in ñ donker skadu by ñ onderwaterklip ingevou as wat hulle verskyn het.

Een van die palings word gevoer met hoenderlewer.
(Foto vanaf Stilbaai inligtingskantoor se videomateriaal geneem.)

Daardie vakansie was die eenkeer in my lewe toe ek as ñ student saam met my sussie en ouers op Stilbaai was.

Ek onthou veral drie dinge van daardie paar nagte: die wind wat onverpoos die seesand oor my bene vee soos skuurpapier met ñ 40-grint, die losieshuis op pale wat ons gedeel het met ñ familie waarvan die man een van Mandela se tronkbewaarders op Robbeneiland was en dan derdens, die poeletjie palings.

Ry ek vanmiddag vir die eerste keer weer by die dorp in met my eie gesin en vertel hulle van daardie vakansie. Die vakansie net na ouma Tienie se dood.

“Dit was by die biblioteek. Of was dit die munisipale kantore?” probeer ek onthou terwyl ons die palingpoeletjie soek.

“Dit moet in die ou deel van die dorp wees. . . die inligtingskantoor. Kyk! Alles lyk nog net so.” Verbaas. Oor die plek nog bestaan en sommer oor ek dit enigsins kon opspoor vyf en twintig jaar later.

“Julle het dit gemis. Ons voer net 11:00,” sê die vrou agter die inligtingskatoor se toonbank.

Toe sy my gesig sien, gee sy effe in en wys sy vir ons maar ñ kort video en ñ paar foto’s van die palingvoerdery. Die kinders verloor dadelik belangstelling in die skerm en begin in die winkeltjie ronddwaal. Sommige herinneringe kan jy nie vir jou kinders dupliseer nie, al wil jy hoe graag. ñ Paling en ñ paling op ñ skerm is nie dieselfde ding nie.

“Het hulle nog die name van apostels?” vra ek haar.

“Nee.”

“Wat is hul name nou?”

“Hulle het nie name nie.”

“Voer julle steeds rou maalvleis?” gryp ek steeds die verlede in.

“Nee. Hoenderlewer.”

“Hoe oud word ñ paling? Is dit nog dieselfde 12 palings?”

“As kind sê jy?” begin sy opwarm. “Nee, hulle is nou minder as 12. Die otter het ook nog die drie grootstes gevang. Hier aan die begin van die somer. Toe sit ons maar elektriese draad om.”

Sy begin vir ons kinders vertel oor die wel en weë van die palings-sonder-name. En soos ek, ñ kwart-eeu gelede, begin hulle in verwondering na haar luister.

Hoe die palings terugdring see toe om te gaan broei sodra hulle geslagsryp is. Dis nou ook nie asof die see net hier neffens teen die rotse klots nie; die oseaan wink ñ goeie drie tot vyf kilometer ver van die poeletjie af. Die palings kruip oor land waar die water opraak, maar see toe, die moet hy en terug poel toe, die moet hy ook as hy klaar sy broei gebroei het.

‘n Watervoor is gebou om die palings by te staan met ‘n klein gedeelte van hul jaarlikse pad see toe en terug.

“Ek hardloop weg as hulle op die grond kom,” gril die vrou van die inligtingskantoor, “Hulle lyk mos soos slange as hul so landlangs seil. Darem meesal snags.”

In ons soeke na die strand, later die oggend, herken ek die losieshuis op pale, nuut geverf en oorgepaal.

Die mense wat saam met ons daar gebly het, het ons saans genooi om saam te braai in die tuintjie agter die losieshuis. Meesal vis.

Dit was nou die mense wat vir die Gevangenisdiens gewerk het; deesdae Korrektiewe Dienste. Die man het vertel hy was lank een van Mandela se bewaarders.

Ons het eers oor die tagtigs gepraat.

Die jare toe Pa soggens voor skool van die plot af met die trekker voor Ma uit op die grondpad ry as daar nuus was van nog ñ landmyn in die Laeveld wat afgetrap is, om seker te maak Ma en ons ry veilig tot by die teerpad. Ek en my sussie moes help kyk vir die vee-merke van takke op die pad soos die ANC hul landmyngate en spore sou probeer doodvee. Ek was op sulke oggende doodbenoud dat daardie trekker met Pa op, iets gaan aftrap wat Pa in stukke gaan skiet.

Ons het natuurlik oor Nelson Mandela ook gepraat.

“Nee-wat,” vertel die gevangenisdiens-oom, “ons het nie moeilikheid met hom gehad nie. Ek moet sê, ons is goeie vriende. Ons het altyd lekker gesels. Hy het later jare selfs ñ faksmasjien en televisie in sy sel gehad.”

Ek het met groot oë na die man geluister. Hierdie man wat so te sê in die leeu se bek  gewerk het. Nou, jare later, besef ek dat daardie oom se vertellinge langs ñ visbraai in Stilbaai ñ ou angs uit my uit gepraat het wat ek nie bewustelik in my gekoester het nie. Tot op daardie aand was Nelson Mandela vir my die onnoembare vrees op ñ grondpad in die Laeveld. Daardie oom se vertelling het die naam Nelson Mandela vir my verander van vrees na mens; ñ mens wat iemand wat ek nou ken se vriend is.

Ons ry die klein bultjie op na die strand. Die Goukou-rivier lê agter ons in die sonlig.

“Dit was eers die k**skuilrivier . Maar dit moes verander. Die ou naam verwys eintlik na ñ tipe riet,” het die vrou by die inligtingskantoor ons vroeër die dag vertel.

“Dis dieselfde met die  koraalboom hier voor . . . die naam wat moes verander.”

“Einste,” het sy geknik, “Goukou was die naam van die Khoikhoi tussen die Botrivier en die Gouritsrivier se stamhoof. Toe verander Riversdal munisipaliteit die rivier se naam na die Goukourivier in 1998.”

Kiana het ñ pot kankerbos en brandneteltee op die toonbank neergesit.

Die vrou het dit begin oplui en verder gesels, “Ons het een jaar lekker gelag. Mense van hier het ñ hele paar jaar gelede van daardie wilde waatlemoenkonfyt gekook vir die KKNK – van daardie met die verbode naam in. Nou loop die mense met ñ dilemma en ons vertel hulle van die rivier se naam. Toe noem hulle dit Goukou-konfyt. Hulle het gereken as die rivier se naam verander is van die verbode naam na Goukou, dan vertaal jy seker alle name wat om daardie rede moet verander na goukou toe. Hulle kon dit maar net makataankonfyt genoem het,” lag sy, “want dis mos sy ander naam. Makataan.

Nietemin, hulle was vinnig uitverkoop. Tot vandag toe noem daardie vrou haar makataankonfyt goukou-konfyt.”

Ons het weggedraai van die duine af en ry nou terug oor die Goukourivier om op die strand al langs die riviermond te gaan stap.

Die laaste son het die deinings van die landskap begin verf en die water van die rivier het oud en blou met die see gemeng, soos al die middae voor hierdie middag.

As jy in die dag se laaste uur in hierdie ligdeurdrenkte landskap loop, word alles ontdaan van naam en politiek en aardse belang. Die rivier sny naamloos deur ñ stuk aarde see toe en op hierdie stuk aarde is daar bome en vrugte en palings wat seisoen na seisoen doen wat bome en vrugte en palings doen- ondanks die mens se naamgeëry, al dan nie.

Dalk is Stilbaai die naaste naam aan geen naam nie. Stilte. Om ñ plek te probeer beskryf waar die mens kom name gee en weer name gee, maar die rivier en die palings en die baai net stil-stil die seisoene gehoorsaam.

-28 Maart 2019-